MOSSELBAAI NUUS - Vakansiegangers, soos inwoners van Mosselbaai, word weer eens daarop gewys dat die ganse Wes-Kaap tans 'n uitmergelende droogte ervaar. Hoewel omstandighede in Mosselbaai nie dieselfde knellende afmetings aanneem as in naburige dorpe nie, word 'n vriendelike, dog dringende versoek gerig dat water met die grootste omsigtigheid gebruik moet word.
Wenke
Ja, dit is somer en almal wil graag afkoel. Stort liefs, en keer dat 'n bad vol gebruikte vars water weggespoel word wanneer die badprop uitgetrek word.
Moenie voertuie tuis met 'n tuinslang afspoel of was nie.
Moenie tuine met geoutomatiseerde besproeiing benat nie, gebruik by voorkeur 'n tuinslang en doen dit by voorkeur vroeg soggens of laat saans.
Let op of die spoelbak van die toilet en die onderskeie krane in die huis - en buite die huis - dalk lek. Indien wel, laat dit onmiddellik herstel. Lekkende krane lei tot enorme waterverliese.
Hergebruik water vir sover moontlik. Badwater is ideaal vir tuindoeleindes, selfs water wat tydens 'n stort in 'n kom opgevang word, kan in groentetuine gebruik word.
Net omdat dit 'n vakansiehuis is, kan krane nie maar oop gelaat word nie. Tap 'n gerieflike hoeveelheid water in die wasbak voordat soggens gesig gewas of tande geborsel word - moenie die water uit die kraan laat loop terwyl gesig gewas word nie.
Kweek 'n spaarsamige ingesteldheid ook by kinders aan sodat ook hulle kan let op die besparing van water.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'